14 Maart 2018
Ek het soos ‘n klip geslaap, twaalf ure om presies te wees. Nou is ek gereed vir hierdie nuwe dag en vandag tackle ons Huadiwan.
Gerhard het twee dae beskikbaar om my te oriënteer en hy laat nie op hom wag nie. Vandag moet ek die metro onder die knie kry sodat ek self kan kom en gaan soos ek wil.
Hy het darem vir my ‘n Chinese simkaart in my foon gesit en as ek verdwaald raak sal ek hom of Whitney kan bel. Ek het besluit dat if worst comes to worst, sal ek met die metro tot by die lughawe ry en dan van daar af voor begin om by hulle huis uit te kom. ‘n Boer maak ‘n plan.
Die mark is oorweldigend.
Die meubels is beeldskoon. Swaar uitgekerfde hout met die mooiste patrone. Ek verkyk myself.
As kind het ek die geskiedenis en legendes van verskillende lande verslind. Die beelde laat my dink aan die Chinese fabels in Die Kinders Van Die Wêreld.
Blomme en mos~begroeide klippe…
Visse…
Gerhard vra my of ek enigiets wil koop. Nee, sê ek, maar ek wil graag ‘n klip huis toe vat. Sal ek ooit êrens ‘n klip kan optel?
Ek weet nie ma, sê hy met ‘n smile. Maar kom kyk hier…
En toe loop ek myself binne~in klip euforie in!
Ons vermy die besige strate en draai af deur agterstraatjies.
Interessante ou geboue, deure en posbusse.
Ons draai huiswaarts deur wye strate, Mc Donalds en my genoegsame hart.
Dis ‘n lieflike aand in Guangzhou en ons besluit om na aandete in die omgewing te gaan stap.
Dis ‘n goeie dag vir my.
Gerhard sing Koos Doep op die metro en ek kyk hoe die waens teen ‘n hoë spoed kronkel. Ek het verlang na my kind, dink ek. Maar ek sien hy is baie gelukkig en dit maak my bly.
17.6 km vir die dag sê my fitbit en ek smile toe ek my lig afsit.
Leave a comment